Die Teksmark is ‘n vars platform vir die skep van nuwe Suid-Afrikaanse verhoogtekste, in Afrikaans. Skrywers kry die geleentheid om die verhoogmatigheid van tekste en idees vir tekste te toets, en met terugvoer van rolspelers in die bedryf, te voltooi.
WIE MAG DEELNEEM
Alle skrywers (hetsy gevestig of opkomend) kan voorstelle indien.
IS DAAR ’N AANSOEKPROSES?
Ja. Stuur jou voorstel teen Dinsdag, 06 September 2016 om 12:00 aan Linda Marques, programbestuurder, by linda@kunste.org.za met o.a. die titel van jou teks, ’n uiteensetting van die inhoud en karakters en ’n tematiese konteks. Volledige tekste word verwelkom, maar opvoerbare uittreksels van ten minste 10 minute word ook oorweeg.
HOE WERK DIE TEKSMARK?
Voorstelle word oorweeg om as leesteater by ’n naweeklange Teksmark van 22 tot 23 Oktober 2016 in Kaapstad aangebied te word, waar verteenwoordigers van teaters, feeste, vervaardigers en ander moontlike beleggers teenwoordig is. Skrywers kry hiér geleentheid om oor hul teks-idees te gesels. Die mark is oop vir enige van die belanghebbendes om met skrywers te onderhandel oor moontlike belegging in en verdere ontwikkeling van hul tekste.
WATTER TIPE VOORSTELLE WORD OORWEEG?
Tekste in alle Suid-Afrikaanse tale, wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg. Die skrywer moet inwillig dat die teks na Afrikaans vertaal mag word. Onvolledige, handgeskrewe en laat voorstelle word nie oorweeg nie.
MEER INLIGTING
Laai Die Teksmark se Inligtingsdokument af vir meer inligting.
NAVRAE
Kontak Linda Marques by 044 203 8600 of linda@kunste.org.za of Hugo Theart by 083 324 2445 of hugo@kunste.org.za met enige navrae.
